Episodios

  • Moenie Vrees Jou Laat Beheer Nie
    Feb 22 2026

    Send a text

    Josua 1:9 Ek self gee jou die opdrag. Wees sterk, wees vasberade. Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan.

    Was jy al ooit so bang dat dit jou gekeer het om die regte ding te doen? Daardie ding wat jy geweet het jy behoort te doen? Of, miskien was jy te versigtig om die regte ding te doen. Omdat ek al in so ‘n situasie was, en die skaamte en teleurstelling beleef het, weet ek dat ons elkeen hoop dat ons volgende keer 'n bietjie meer moed aan die dag sal lê.

    Toe God uit die brandende bos vir Moses opdrag gegee het om terug te gaan na Egipte, het hy in plaas daarvan om dadelik in te stem, met God geargumenteer; want hy was bang. Moses het gevrees dat die Israeliete hom sal verwerp; dat hulle nie na hom sal luister nie en nie sal glo dat God hom gestuur het nie.

    Ten spyte van Moses se aanvanklike huiwering en vrees, het God met geduld en gerusstelling gereageer. God het beloof dat Hy by Moses sal wees; Hy het wonderbaarlike tekens gedoen om Moses te oortuig; en Hy het praktiese hulp aangebied in die vorm van Moses se broer, Aäron, om namens hom te praat. Moses het uiteindelik gehoorsaam; sy vrese in die gesig gestaar; en voortgegaan om sy roeping as leier, wat sy volk uit Egipte moet lei, te vervul.

    Na Moses se dood moes Josua die Israeliete die Beloofde Land inlei. Dit was ’n baie gevaarlike situasie, want die land was vol van vyandige heidense nasies in die gebied wat hulle moes inneem. Die toekoms van Israel het in die weegskaal gehang. Toe sê God vir hom …

    Josua 1:9 Ek self gee jou die opdrag. Wees sterk, wees vasberade. Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan.

    En dis hoe God werk. Wanneer God jou roep om dít te doen waarvoor Hy jou geroep het, en jy gehoorsaam, sal Hy met jou wees waar jy ook al gaan. Moenie in vrees terugdeins nie. Moenie toelaat dat vrees jou terughou van dít wat goed is, en van dít wat reg is nie. Moenie toelaat dat vrees die besluite in jou lewe neem nie.

    Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan.

    Dis Sy Woord. Vars … vir jou … vandag.

    Support the show

    Enjoying The Content?
    For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
    DONATE R50 MONTHLY

    Más Menos
    3 m
  • Van Put tot Paleis
    Feb 21 2026

    Send a text

    Genesis 50:20 Julle wou my kwaad aandoen, maar God wou daarmee goed doen: Hy het gesorg dat 'n groot volk nou in die lewe gebly het.

    Die lewe is vol krissise. Jy het ongetwyfeld ook al baie beleef, of hoe? Party wat jy goed kan onthou - die grotes en die kleintjies. Alhoewel dit destyds ontstellend was, was dit op die ou end toe nie so sleg as wat jy gedink het dit sal wees nie.

    Ons lees in die Ou Testament van Josef. Hy was Jakob se jongste en ook sy gunsteling seun. Sy broers was so jaloers op Josef dat hulle saamgesweer het om hom dood te maak. Uiteindelik het hulle hom egter as slaaf aan Egiptenare verkoop. Daar het hy jare in die tronk deurgebring vir 'n misdaad wat hy nie gepleeg het nie.

    Die arme jongman het terugslag na terugslag beleef. Maar hy het elke keer opgestaan en dapper voortgegaan. Wanneer jy Josef se verhaal in Genesis, hoofstukke 37 tot 50 lees, sien jy hoe hy elke terugslag met integriteit hanteer het en hoe God dit geëer het.

    Josef was uiteindelik die Eerste Minister van Egipte; ja, hy was tweede in bevel, net onder Farao. Tydens 'n groot hongersnood, het dieselfde broers wat hom aan Egiptiese handelaars verkoop het, voor hom gestaan om kos te kom bedel. Josef het letterlik die mag van lewe en dood oor hulle gehad. Tog het hy so gereageer:

    Genesis 50:20 Julle wou my kwaad aandoen, maar God wou daarmee goed doen: Hy het gesorg dat 'n groot volk nou in die lewe gebly het.

    Alhoewel hy gehaat is, as slaaf verkoop is, valslik beskuldig is en gevange geneem is; het elkeen van hierdie massiewe terugslae Josef nader aan God se doel vir sy lewe gebring: naamlik om baie lewens te red. Ons sien in God se koninkryk is 'n terugslag die voorbereiding vir iets groter.

    Dis Sy Woord. Vars ... vir jou ... vandag

    Support the show

    Enjoying The Content?
    For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
    DONATE R50 MONTHLY

    Más Menos
    3 m
  • Die Beste Terapie
    Feb 20 2026

    Send a text

    Lukas 24:32 Hulle sê toe vir mekaar: “Het ons hart nie warm geword toe Hy op die pad met ons gepraat en vir ons die Skrif uitgelê het nie?”

    Het jy al ooit iemand wat jy ken op 'n onverwagte plek of in ‘n vreemde konteks raakgeloop? Jy herken hulle op ‘n manier, maar jy kan hulle nie heeltemal plaas nie. Soms herken jy hulle glad nie eers nie. Daardie onverwagte konteks verwar jou.

    Dis wat met die twee dissipels op pad na Emmaus gebeur het. Hulle het geloop en gesels oor die ontstellende gebeure van Jesus se kruisiging tydens die Pasgafees. Hulle was getraumatiseer toe hulle besef dat Jesus dood is, want hulle het nog gehoop dat Hy hulle van die Romeine sal red.

    Terwyl hulle oor die gebeure van die afgelope paar dae gepraat het, het 'n ander man langs hulle begin stap. Hulle het natuurlik nooit verwag dat daardie persoon Jesus kon wees nie, want Hy was immers die man aan die kruis. Hy was immers dood. Maar terwyl Hy gepraat het, het 'n vreemde, bonatuurlike gevoel oor hulle gekom.

    Toe Jesus weg is, het hulle tot hul ontsteltenis ontdek dat hulle Hom nie herken het nie …

    Lukas 24:32 Hulle sê toe vir mekaar: “Het ons hart nie warm geword toe Hy op die pad met ons gepraat en vir ons die Skrif uitgelê het nie?”

    Soms is goeie terapie om saam met 'n vriend te stap. En weet jy, die beste terapie, die beste genesing om die trauma diep binne-in te oorkom, is om saam met Jesus te stap.

    Dieselfde opgestane Jesus, die een wat vir jou gesterf en weer opgestaan het, leef en is gesond … en gereed om saam met jou te stap en te praat. Hy kan, en Hy sal jou siel diep binne-in jou genees. Hy het immers opgestaan om vir jou 'n nuwe lewe te gee.

    Mag dieselfde vuur in jou brand.

    Dis God se Woord. Vars … vir jou … vandag.

    Support the show

    Enjoying The Content?
    For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
    DONATE R50 MONTHLY

    Más Menos
    3 m
  • Kies: Vinnig of Ver?
    Feb 19 2026

    Send a text

    Spreuke 27:17 Yster slyp yster, vriende vorm mekaar.

    Ons weet almal hoe die uitvinding van die motorkar ‘n totale omwenteling in die wêreld teweeggebring het. Sedert die eerste motor in 1886 gebou is, het dit gegroei tot meer as 1.5 miljard voertuie op die pad vandag. Maar dit was eers in 1913, toe Ford met massaproduksie begin het, dat dinge regtig vlamgevat het.

    In die vroeë dae het Henry Ford gedink hy is die slimste ou en hy kan op sy eie regkom. Sy eerste pogings het nie regtig geslaag nie. Dit was te duur, en te stadig. Maar toe het hy slim geword. En toe het die groot uitbreiding gekom. Ford het 'n span ingenieurs, werktuigkundiges en sakelui bymekaargemaak en hulle het almal bygedra om die aanvanklike konsep te verbeter.

    Hulle het saamgewerk en ‘n bewegende produksiebaan ontwikkel en die produksietyd vir 'n Model T aansienlik verminder. Henry Ford kon op sy eie één motor bou, maar met 'n span, het hy 'n bedryf gebou en die wêreld “wiele gegee”.

    Ons wil al te dikwels dinge alleen doen en onsself verbeel dat ons dit deur ons eie vindingrykheid en energie kan laat gebeur. Dit is immers harde werk om spanne nukkerige individue wat soms in verskillende rigtings wil afdwaal, te lei, maar die waarheid is …

    Spreuke 27:17 Yster slyp yster, vriende vorm mekaar.

    Vonke vlieg wanneer yster yster slyp, maar as daar een ding is wat ek oor byna vyftig jaar in die arbeidsmag geleer het, is dit: alhoewel ek op my eie baie vinniger kan werk; kan ek nie so baie en sulke goeie werk gedaan kry nie.

    Ja, die verskillende vaardighede, perspektiewe en idees rondom die tafel kán vonke laat spat. Maar saam behaal hulle ook die beste resultate. Moet daarom nie bang wees vir die vonke nie, want net soos yster yster slyp, so dra een persoon by tot die volgende persoon se briljante idees.

    Dis God se Woord. Vars … vir jou … vandag.

    Support the show

    Enjoying The Content?
    For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
    DONATE R50 MONTHLY

    Más Menos
    3 m
  • Fokus op die Toekoms
    Feb 18 2026

    Send a text

    Jesaja 43:18-21 Maar moenie net aan die vroeëre dinge dink en by die verlede stilstaan nie. Kyk, Ek gaan iets nuuts doen, dit staan op die punt om te gebeur, julle kan dit al sien kom; Ek maak in die woestyn 'n pad, Ek laat in die droë wêreld riviere ontspring. Die wilde diere sal My vereer, die jakkalse en die volstruise, omdat Ek water gee in die woestyn, riviere in die droë wêreld om my volk, my uitverkore volk, se dors te les. Dit is die volk wat Ek vir My geskep het, en wat my lof sal verkondig.

    Dis so hartseer om te sien hoe mense met soveel potensiaal, teruggehou word deur boeie; boeie van spyt en boeie van hul verlede. Hulle moet oppas dat hulle nie hulle verlede toelaat om hul lewens te vernietig nie. As jy om jou kyk, sien jy dat baie mense in daardie strik trap.

    Watter nare stories uit jou verlede gee jy die duiwel toestemming om oor en oor in jou oor te fluister? Vir party mense het die lewe hulle geleer om dié leuen te glo dat hulle eenvoudig nie goedgenoeg is nie. Vir ander mense spook vorige mislukkings by hulle.

    Dis selfs pynlik om te erken dat die verlede so deel van ons lewens is, dat ons nie 'n toekoms daarsonder kan voorstel nie.

    As enige van hierdie dinge oor die verlede jou laat nadink, het ek vandag wonderlike goeie nuus vir jou. Dit kom van God self, waar Hy met sy volk, Israel, praat, toe hulle wanhopig en moedeloos was:

    Jesaja 43:18-21 Maar moenie net aan die vroeëre dinge dink en by die verlede stilstaan nie. Kyk, Ek gaan iets nuuts doen, dit staan op die punt om te gebeur, julle kan dit al sien kom; Ek maak in die woestyn 'n pad, Ek laat in die droë wêreld riviere ontspring. Die wilde diere sal My vereer, die jakkalse en die volstruise, omdat Ek water gee in die woestyn, riviere in die droë wêreld om my volk, my uitverkore volk, se dors te les. Dit is die volk wat Ek vir My geskep het, en wat my lof sal verkondig.

    Ja, ons weet almal jy kan die verlede nie verander nie. Maar God wil jou toekoms verander! Hy roep jou om nie in gister se mislukkings te leef nie, maar om vorentoe te beweeg in dít wat Hy op die punt staan om te doen.

    Moet dus nie die hele tyd terugdink aan wat in die verlede verkeerd geloop het nie, want Hy sê: Ek gaan iets nuuts doen, dit staan op die punt om te gebeur!

    Dis God se Woord. Vars ... vir jou ... vandag.

    Support the show

    Enjoying The Content?
    For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
    DONATE R50 MONTHLY

    Más Menos
    3 m
  • Komende Reünie
    Feb 17 2026

    Send a text

    Johannes 14:1-3 “Julle moet nie ontsteld wees nie. Glo in God; glo ook in My. In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek nie vir julle gesê het Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie. En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.

    Reünies is so ongelooflik spesiaal. Familie-reünies. Klas-reünies. Dis die geleenthede waar jy die kans kry om met mense met wie jy oor die jare 'n diep band ontwikkel het, weer te sien.

    Vir diegene van Chinese afkoms, is die Chinese Nuwejaar so 'n tyd. Families reis lang afstande om bymekaar te kom en die belangrikste maaltyd van die jaar te deel.

    Ek weet dat wanneer ek en die manne met wie ek amper vyftig jaar gelede as weermagsoffisiere opgelei is, bymekaarkom, is daar ‘n wonderlike diep, familieband. Ons voel asof ons bestem is om saam te wees.

    En met my hele hart, kan ek sê: ons is ook gemaak om een met God te wees. Hy verlang na ons. Hy het Jesus gestuur om aan die kruis te sterf sodat ons sondes vergewe kan word wanneer ons in Hom glo. Maar Jesus het die dood oorwin; Hy het opgestaan om vir ons 'n nuwe lewe te bring. ‘n Lewe van vryheid, van diep innerlike vrede en van die oorwinning oor die sonde wat ons lewens plunder.

    En moenie jou misgis nie, Hy kom terug ... om die perfekte reünie te vier. Jesus het net voordat Hy gekruisig is, aan sy dissipels gesê:

    Johannes 14:1-3 “Julle moet nie ontsteld wees nie. Glo in God; glo ook in My. In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek nie vir julle gesê het Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie. En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.

    Vertrou Hom. Ek kom terug en sal julle na My toe neem. Hy kom terug ... vir jou!

    Dis God se Woord. Vars ... vir jou ... vandag.

    Support the show

    Enjoying The Content?
    For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
    DONATE R50 MONTHLY

    Más Menos
    3 m
  • Dit Tyd vir Huisskoonmaak
    Feb 16 2026

    Send a text

    Psalm 51:12-14 Skep vir my 'n rein hart, o God, vernuwe my gees en maak my standvastig. Moet my tog nie van U af wegdryf en u Heilige Gees van my af wegneem nie! Laat my weer die blydskap ervaar van iemand wat deur U verlos is, Laat my U weer met toewyding dien.

    Het jy ook sulke klein ou dingetjies in jou lewe wat pla en jou sommer ongemaklik en moeg laat voel? Ek praat nie van groot en pynlike dinge wat jou lewe ontwrig nie; maar daardie gevoel van ongemak wat jou permanent gespanne en omgekrap laat voel.

    Neem byvoorbeeld jou slaap. Jy kan vir 'n rukkie, selfs vir jare, met onvoldoende slaap klaarkom; totdat jy op ‘n dag besef dat dit tot stres, hoë bloeddruk, selfs suikersiekte en hartsiektes bydra. En jy weet dat, tensy jy iets daaraan doen ... dit jou sal doodmaak.

    Dieselfde geld vir die woelinge wat in jou hart aangaan; die dinge wat emosioneel en geestelik skadelik is en die dinge wat verhoudings belemmer. Neem byvoorbeeld chroniese woede. Dink jy dis goed vir jou vrede, jou huwelik en selfs jou verhouding met God?

    Dawid het met die probleem van wellus geworstel. Hy het egbreuk gepleeg en selfs ‘n man laat doodmaak sodat hy die ou se vrou in die hande kon kry. Sy lewe was op 'n afwaartse pad ... totdat hy tot sy sinne gekom het en hierdie gebed gebid het:

    Psalm 51:12-14 Skep vir my 'n rein hart, o God, vernuwe my gees en maak my standvastig. Moet my tog nie van U af wegdryf en u Heilige Gees van my af wegneem nie! Laat my weer die blydskap ervaar van iemand wat deur U verlos is, Laat my U weer met toewyding dien.

    Wat is daar in jou lewe wat jou van vrede en blydskap beroof? Miskien is vandag die dag vir jou om tot jou sinne te kom. Miskien is vandag die dag vir jou om huis skoon te maak.

    Skep vir my 'n rein hart, o God, vernuwe my gees en maak my standvastig

    Dis God se Woord. Vars ... vir jou ... vandag.

    Support the show

    Enjoying The Content?
    For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
    DONATE R50 MONTHLY

    Más Menos
    3 m
  • Februarie Nuusbrief
    Feb 15 2026

    Send a text

    Goeiemôre aan al ons VARS-potgooivriende.

    Ek is Jokkie Gauché en hier is VARSVANDAG se Eerste Februarie Nuusbrief.

    Ek vertrou dat dit goed gaan met jou. Ons hoor van die verskriklike vure in die Suide en die ontsettende vloede in die Noorde, die ellende van Bek-en-Klouseer en ons wil vir julle almal sterkte en seën toebid.

    Die boodskap van 3 Februarie oor die dissipels se ervaring tydens die storm op die see het my herinner aan iets wat ek ‘n ruk gelede oor Noag se Ark gelees het.

    Ontspan en Dryf

    Die mees indrukwekkende detail van Noag se Ark is nie die grootte en krag van die vloed nie. Dit is die ontwerp van die boot. In Genesis 6 het God vir Noag baie spesifieke instruksies gegee oor die konstruksie van die boot. Maar enige ou sal jou vertel dat God baie noodsaaklike komponente uitgelaat het. Daar is geen stuur, geen seil, geen enjin en geen navigasie toerusting nie. Hoe kan dit werk? Noag sal geen beheer oor hierdie massiewe vaartuig hê nie. Hy sal nie van rotse kan wegstuur nie; hy sal dit nie in die golwe kan draai nie.

    Noag se werk sal wees om die Passasier, nie die Kaptein, te wees nie. God is die Kaptein. Dit is 'n prentjie van jou lewe. Jy probeer om te stuur in 'n situasie waar God wil hê jy net moet dryf. God het ‘n plan vir jou lewe...buite jou gemaksone!

    Dis so maklik vir jou om vir ander tot seën te wees ...

    Deur jou bydrae maak jy dit moontlik vir ons om duisende mense dwarsdeur die wêreld in Afrikaans te bereik. Wanneer ons praat van jou bydrae, praat ons nie net van geld nie, (alhoewel ons dit ook broodnodig het) maar veral van jou gebede vir die uitbreiding van Koninkryk van ons Here Jesus Christus deur die media. Kan jy dink dat iemand op pad na sy werk ‘toevallig’ die radio aanskakel en ‘n boodskap hoor wat hom na Jesus lei? Of wat van daardie ouma, wat net rustig sit en brei met die radio in die agtergrond...

    Maar hoe kan 'n mens Hom aanroep as jy nie in Hom glo nie? En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie (Romeine 10:14)

    Seënwense en mooi loop

    Jokkie en Annelie en die VARS-span

    Aanlyn Betalingsopsies vir Christianityworks se bediening in RSA:

    Bank: First National Bank (FNB)

    Rekening naam: Christianityworks NPC

    Takkode: 250655

    Rekeningnommer: 6286 0951 550

    https://christianityworks.co.za/af/donate/ vir aanlyn betalingsopsies.

    Support the show

    Enjoying The Content?
    For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
    DONATE R50 MONTHLY

    Más Menos
    3 m