Episodios

  • Jy Hoef Dit Nie Alleen Aan te Pak Nie
    Jan 7 2026

    Send us a text

    Johannes 7:37-39 Op die laaste dag, die groot dag van die huttefees, het Jesus daar gestaan en uitgeroep: “As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink! Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê: Strome lewende water sal uit sy binneste vloei. ”Hiermee het Hy na die Gees verwys...

    Ek dink die meeste van ons wil goeie en edel dinge doen, nè? Maar, o, ek weet ook, daar is soveel dinge wat in die pad daarvan staan – ons emosies, ons aangebore selfsug en moeilike tye. En tog hoop ons almal om onthou te word as ‘n mens wat ‘n goeie en eerbare lewe geleef het.

    Nouja, ek moet nie veralgemeen nie. Bendeleiers in die wêreld van georganiseerde misdaad, diktators, kriminele, moordenaars en skelms word nie elke oggend wakker en dink: "Hoe kan ek vandag die wêreld ten goede beïnvloed of wie kan ek vandag seën?" Dis nie hulle begeertes nie, nè?

    Maar ek is redelik seker dat jy iemand is wat graag goed wil doen. Maar ons weet, dis moeilik om goeie en eerbare dinge te doen. Daarom voel ons dikwels so alleen; so onbekwaam om in die deurmekaar wêreld wat ons vandag moet trotseer, die goeie te doen.

    Maar hier is die goeie nuus – jy is nie alleen hierin nie. Daar is 'n vloedgolf van krag vir jou, in jou strewe na goedheid, beskikbaar:

    Johannes 7:37-39 Op die laaste dag, die groot dag van die huttefees, het Jesus daar gestaan en uitgeroep: “As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink! Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê: Strome lewende water sal uit sy binneste vloei.” Hiermee het Hy na die Gees verwys...

    Daardie strome van lewende water waarvan Hy praat ... dit is 'n oorvloed van God se Gees, God se krag, God se goedheid, wat deur jou na die dorre, droë, seer lewens van diegene rondom jou vloei.

    Wanneer jy op Jesus vertrou, hoef jy dit beslis nie alleen te doen nie.

    Dis God se Woord. Vars ... vir jou ... vandag.

    Support the show

    Enjoying The Content?
    For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
    DONATE R50 MONTHLY

    Más Menos
    3 m
  • Stel God Eerste
    Jan 6 2026

    Send us a text

    Matteus 6:33 Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.

    Sê my, wat is die belangrikste ding in jou gedagtes wanneer ons hierdie nuwe jaar aanpak? Waarop het jy jou visier gestel? Wat wil jy bereik? Wat is die belangrikste probleem in jou lewe wat opgelos moet word? Watter verhouding moet gekoester word? Wat is die nommer een ding waaraan jy ter voorbereiding van hierdie nuwe jaar, dink?

    Dis ‘n goeie ding om ‘n lys van jou prioriteite op te stel, maar wees versigtig om nie die verkeerde dinge te prioritiseer nie. Ja, my vriend, met verkeerde prioriteite is die lewe geneig om ‘n ander koers in te slaan en voor jy jou oë uitvee, het jy so dramaties afgedwaal dat jy jouself in 'n wildernis bevind. ‘n Maalkolk waarin jy nooit gedink het jy sou beland nie.

    Ek was in my jonger jare so gefokus op die bou van my IT-maatskappy en ek het so hard daaraan gewerk om die hoogste sport in my loopbaan te bereik, dat dit my gesin vernietig het. Die ergste was dat ek myself wysgemaak het dat ek dit vir húlle gedoen het. Dis my grootste verwyt.... Jy kan oënskynlik goeie prioriteite hê, maar indien dit nie die regtes is nie; sal dit jou lewe vernietig.

    In die konteks van die vervulling van fisiese behoeftes; soos om kos op die tafel te sit en 'n dak oor jou kop te kry, het Jesus die volgende gesê in:

    Matteus 6:33 Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.

    Na my verskriklike ervaring, het ek besluit om Jesus te gehoorsaam; om Hom aan die stuur van my lewe te plaas – iets wat ek met my hele hart gedoen het. Ek het dit nie aldag perfek reggekry nie, maar ek het daagliks daarvoor gebid.

    Selfs in tye toe ek nie genoeg geld gehad het om kos op my tafel te sit of 'n dak oor my kop te verseker nie, het God getrou gebly aan sy Woord en vir my deur ander gelowiges voorsien. Wanneer jy God eerste stel en leef soos Hy wil hê jy moet leef, voorsien Hy in al jou ander behoeftes. Hy doen dit, want Hy hou sy belofte aan jou!

    Dis Sy Woord. Vars … vir jou … vandag.

    Support the show

    Enjoying The Content?
    For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
    DONATE R50 MONTHLY

    Más Menos
    3 m
  • Leef met ‘n Plan en die Regte Perspektief
    Jan 5 2026

    Send us a text

    Psalm 90:12-15 Leer ons ons dae so gebruik dat ons wysheid bekom. Hoe lank nog, Here, voordat U ons te hulp kom? Ontferm U tog oor ons. Skenk ons elke dag u liefde in oorvloed, dat ons ons lewe lank mag juig en bly wees. Soveel dae as dié waarin U ons verdruk het, soveel jare as dié waarin ons gely het, gee ons soveel jare van blydskap

    Dis snaaks hoe ons vasgevang raak in die dinge van hierdie wêreld; die dinge wat vandag só baie vir ons saakmaak ... dinge wat oor vyf jaar van nou af, heeltemal irrelevant sal wees. En, weet jy, dis veral wáár wanneer ons swaarkry – dinge word vir ons belangrik. Dis wanneer ons na strooihalms gryp in die hoop dat dit die pyn sal genees en ons behoeftes sal bevredig.

    Jy weet hoe dit gaan. Die jaar is op pad na 'n splinternuwe begin, en jy het dalk nog steeds 'n paar verwyte oor dinge uit die verlede, wat soos ‘n donker wolk oor jou hang. Jy het jou planne vir die toekoms, jy het jou doelwitte gestel, en hier gaan ons ... ja, hier gaan ons, op pad om al ons drome te verwesenlik en om reg te maak wat ons in die verlede verbrou het.

    Ons het vars moed en spring in asof ons vir ewig gaan leef. Maar, my vriend, ons gaan nie! Die psalmis besef wat die belangrikste is:

    Psalm 90:12-15 Leer ons ons dae so gebruik dat ons wysheid bekom. Hoe lank nog, Here, voordat U ons te hulp kom? Ontferm U tog oor ons. Skenk ons elke dag u liefde in oorvloed, dat ons ons lewe lank mag juig en bly wees. Soveel dae as dié waarin U ons verdruk het, soveel jare as dié waarin ons gely het, gee ons soveel jare van blydskap.

    Swaar tye kom soms oor ons pad en lyding is deel van die lewe. Ons het God se wysheid nodig om oor die swaar en die seer van hierdie lewe te triomfeer. Wanneer ons vashou aan God se liefde het ons niks anders nodig om ons waarde te gee nie. Dit is fataal om bevrediging en verligting van die dinge wat ons vreugde steel, in die verganklike dinge van hierdie wêreld te soek. God, skenk ons elke dag sy liefde in oorvloed, sodat ons ons lewe lank mag juig en bly wees. Hy sal ons elke môre opnuut versadig met sy goedertierenheid.

    Dis Sy Woord. Vars ... vir jou ... vandag.

    Support the show

    Enjoying The Content?
    For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
    DONATE R50 MONTHLY

    Más Menos
    3 m
  • Omhels Jou Identiteit in Christus
    Jan 4 2026

    Send us a text

    2 Korintiërs 5:17 Iemand wat aan Christus behoort, is 'n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom.

    Heelwat mense hier op aarde leef vandag minder-as-ideale lewens. Of eintlik moet ek sê: verskriklike lewens, nie uitsluitlik as gevolg van hul omstandighede nie, maar omdat hulle waardeloos voel. Ek wonder of jy iemand ken wat so voel?

    Ja, my vriend, sommige mense leef wel onder verskriklike omstandighede. Mense leef in uiterste armoede, ander leef onder die bedreiging van oorlog en geweld, ander mense is verlate en heeltemal alleen. En in baie gevalle maak selfs die kleinste ingryping om daardie omstandighede te verander, 'n ontsettende groot verskil.

    Maar weet jy, ek het al mense ontmoet wat byvoorbeeld in uiterste armoede of onder erge vervolging leef, wie se gesigte met ‘n vrede en vreugde straal. Dit laat ‘n mens heeltemal verbysterd voel. Dit gaan jou verstand te bowe. Hulle getuig van ‘n innerlike liefde wat nie na die omstandighede kyk nie.

    Jy sal dit eers verstaan wanneer jy besef dat daardie vrede en vreugde uit 'n plek van volkome liefde, volkome aanvaarding, volkome versekering, kom. Ja, my vriend, dit kan nie deur geld gekoop word of uit enigiets wat hierdie wêreld bied, verkry word nie.

    2 Korintiërs 5:17 Iemand wat aan Christus behoort, is 'n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom.

    Tim Keller, ‘n pastoor en skrywer het oor hierdie nuwe identiteit gesê: Die enigste identiteit wat nie broos is nie – die enigste een wat jou werklik kan transformeer – is die een wat jy ontvang, nie die een wat jy bereik nie. In Christus word jy ten volle geken en ten volle liefgehê.

    Sodra jy weet hoe baie God jou liefhet deur wat Jesus aan die kruis vir jou gedoen het; ja, dis reg: wanneer jy werklik, jou nuwe identiteit in Christus ten volle omhels, verander dit alles.

    Want die oue is verby, die nuwe het gekom

    Dis God se Woord. Vars ... vir jou ... vandag.

    Support the show

    Enjoying The Content?
    For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
    DONATE R50 MONTHLY

    Más Menos
    3 m
  • Gebruik jou Tyd Slim
    Jan 3 2026

    Send us a text

    Efesiërs 5:15-17 Wees baie versigtig hoe julle lewe: nie soos onverstandige mense nie, maar soos verstandiges. Maak die beste gebruik van elke geleentheid, want ons lewe in 'n goddelose tyd. Moet daarom nie onverstandig optree nie, maar probeer te wete kom wat die Here wil dat julle moet doen.

    Kyk, ek verstaan hoe sommige mense hierdie nuwe jaar sleepvoetend, moeg en uitgeput binnegaan voordat dit eers begin het; en gevolglik leef hulle 'n halwe lewe, in plaas van 'n vol, ryk, oorvloedige een.

    Ek het self al tye deurgemaak waar ek uitgebrand gevoel het; tye waar ek net nie my beste kon gee nie. Uitbranding is 'n belangrike onderwerp, waaroor ons op 'n ander dag sal praat.

    Maar ons sien daagliks te veel mense wat geen lewenslus het nie: Dit mag dalk in hul werk wees. Ja, ons sien baie mense wat net die absolute minimum; die bietjie waarmee hulle kan wegkom, doen. Dit mag dalk in hul gesinslewe wees, waar hulle na hul slimfoonskerms onttrek en nie tyd maak vir hul maat of kinders nie.

    Was jy al ooit in die versoeking om 'n halwe lewe te leef, in plaas van 'n vol, ryk, oorvloedige lewe? As dit die geval is, laat hierdie Woord van God 'n nuwe asem, 'n nuwe geesdrif, 'n nuwe hoop in jou hart blaas.

    Efesiërs 5:15-17 Wees baie versigtig hoe julle lewe: nie soos onverstandige mense nie, maar soos verstandiges. Maak die beste gebruik van elke geleentheid, want ons lewe in 'n goddelose tyd. Moet daarom nie onverstandig optree nie, maar probeer te wete kom wat die Here wil dat julle moet doen.

    Soos Billy Graham eens gesê het: Tyd is die kapitaal wat God ons gegee het om te belê. Mense is die aandele waarin ons ons tyd moet belê... die beste gebruik van jou tyd, is om dit te spandeer aan iets wat die tyd sal oorleef.

    My vriend, moenie net goed leef nie; leef wys. Uiteindelik gaan dit nie oor hoeveel tyd jy gehad het nie, maar wat jy daarmee gedoen het; dít is wat tot in ewigheid sal weergalm.

    Dis God se Woord. Vars ... vir jou ... vandag.

    Support the show

    Enjoying The Content?
    For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
    DONATE R50 MONTHLY

    Más Menos
    3 m
  • Vertrou God met Jou Planne
    Jan 2 2026

    Send us a text

    Spreuke 16:2-3 Alles wat hy doen, kan vir die mens reg lyk. Die Here weet egter waarom hy dit alles doen. Alles wat jy doen, moet jy opdra aan die Here, dan sal jou planne slaag. (NLV)

    Dit kan terselfdertyd opwindend en ontsenuend wees om iets nuuts te beplan. Dink aan 'n jong paartjie wat hul eerste kind verwag. Hulle sal opgewonde wees oor die vooruitsig om 'n nuwe lewe in hierdie wêreld te verwelkom, maar hulle sal wonder of hulle oor die gawes en kennis om goeie ouers te wees beskik. Afwagting en onsekerheid...

    Hierdie gevoelens is nie net relevant wanneer jy iets groots beplan nie. Dis hoe die lewe is; die lewe bring sy kinkels en draaie. Jy kom by 'n vurk in die pad, ‘n grote of ‘n kleintjie, en jy kies instinktief watter kant toe jy moet gaan. Soms maak jy die regte keuse; en kom ons wees eerlik, soms nie.

    Soos ons gesien het, kan die verkeerde keuse verwoestende gevolge hê. Jy jaag meedoënloos vorentoe in afwagting op iets goeds om te gebeur, en dan misluk jy jammerlik. Ons het dit almal al beleef. En ek weet nie van jou nie, maar dis ‘n ervaring wat ek nie sommer wil herhaal nie.

    Spreuke 16:2-3 Alles wat hy doen, kan vir die mens reg lyk. Die Here weet egter waarom hy dit alles doen. Alles wat jy doen, moet jy opdra aan die Here, dan sal jou planne slaag.

    Dis so maklik om onsself te oortuig dat wat ons doen, reg is. Maar alte dikwels word ons visie deur ons emosies, selfsug en allerhande verkeerde motiewe, vertroebel.

    Maar my vriend, God sien dit alles. Hy beoordeel ons motiewe. Hy verstaan. En daarom kan jy Hom vertrou in alles wat jy doen, en dan sal jou planne slaag.

    Dis God se Woord. Vars ... vir jou ... vandag.

    Support the show

    Enjoying The Content?
    For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
    DONATE R50 MONTHLY

    Más Menos
    3 m
  • Los die Verlede Nou Uit!
    Jan 1 2026

    Send us a text

    Jesaja 43:18-19 Maar moenie net aan die vroeëre dinge dink en by die verlede stilstaan nie. Kyk, Ek gaan iets nuuts doen, dit staan op die punt om te gebeur, julle kan dit al sien kom; Ek maak in die woestyn 'n pad, Ek laat in die droë wêreld riviere ontspring.

    Wel, hier is ons. Ek bid vir jou 'n gelukkige en geseënde nuwe jaar toe. Maar voordat ons hierdie nuwe jaar met entoesiasme, afwagting en met geesdrif tegemoet kan gaan, moet ons die spyt en verwyte van die verlede laat vaar. Ons moet dit doen!

    In die vroeë 20ste-eeu in Sjina, het die Keiserin-weduwee, Longyu, geabdikeer. Sy was die laaste Sjinese koninklike en dit het die keiserlike heerskappy van meer as tweeduisend jaar tot ‘n einde gebring. Haar abdikasie as regent was polities die korrekte ding om te doen vir vrede in Sjina, maar sy het nooit van haar persoonlike verlies van status herstel nie. Vasgevang in die Verbode Stad, het sy haar van mense onttrek; aan haar rituele vasgeklou en oor haar verlore grootsheid getreur.

    Haar verlies het haar vernietig. Sy was op die ou end totaal vereensaam en gebroke en is net maande nadat sy geabdikeer het, oorlede. Hier was 'n dinamiese vrou wat 'n nuwe rol en 'n nuwe toekoms vir haar land kon gee, maar sy het eerder gekies om haarself in die verlede te begrawe.

    Weet jy, spyt kom nie ooglopend nader gehardloop nie, dit sluip saggies nader! En as jy te lank na jou eie stem van verwyt luister, sal dit jou in 'n paleis sonder deure toesluit.

    Jesaja 43:18-19 Maar moenie net aan die vroeëre dinge dink en by die verlede stilstaan nie. Kyk, Ek gaan iets nuuts doen, dit staan op die punt om te gebeur, julle kan dit al sien kom; Ek maak in die woestyn 'n pad, Ek laat in die droë wêreld riviere ontspring.

    Geen hoeveelheid spyt kan verander wat in die verlede gebeur het nie. Dit sal net jou hede vernietig en jou van jou toekoms beroof. Ja, dit sal jou beroof van die lewe van oorvloed wat Jesus vir jou kom gee het.

    Dis 'n nuwe jaar. God doen iets nuuts! Jy weet dat dit waar is.

    Dis Sy Woord. Vars ... vir jou ... vandag.

    Support the show

    Enjoying The Content?
    For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
    DONATE R50 MONTHLY

    Más Menos
    3 m
  • Dink baie Deeglik oor Jou Toekoms
    Dec 31 2025

    Send us a text

    Spreuke 4:26-27 Merk jou pad vir jou duidelik af, dan sal jy seker wees waarheen jy gaan. Moenie links of regs van jou koers afwyk nie. Bly weg van wat verkeerd is. (NLV)

    Wel, hier is ons, op die drumpel van nog 'n nuwe jaar. Die oue is so te sê iets van die verlede en gereed om in die anale opgeteken te word. Die nuwe jaar is op die punt om te begin. Laat my dus toe, om vir jou 'n belangrike vraag te vra: Watter pad beplan jy om in hierdie nuwe jaar te loop? Die eerbare pad of die minder eerbare pad?

    In 44 v.C. het Marcus Junius Brutus met ‘n dolk in die hand in die skadukant van die Romeinse Senaatsgebou gestaan. Julius Caesar, sy mentor en vriend, het onwetend in die lokval wat vir hom gestel is, geloop. Brutus het geglo dat hy, deur Caesar te vermoor, besig is om die Republiek te red. Maar deur verraad bo dialoog te kies; moord bo genade, het hy chaos ontketen.

    Rome het nie na vryheid teruggekeer nie; in plaas daarvan het dit in 'n wreedaardige ryk ontaard. Burgeroorlog het gevolg. Brutus het aan sy eie hand gesterf en hy word in die geskiedenisboeke nie as 'n held geëer nie, maar as 'n simbool van verraad. Hy het die verkeerde pad gekies.

    Watter pad gaan jy vanjaar kies? Sal jy die pad kies wat eerbaar is en ander mense nie sal benadeel nie, of sal jy ‘n onetiese pad kies? Hier is God se liefdevolle raad aan jou, vir die jaar wat voorlê in:

    Spreuke 4:26-27 Merk jou pad vir jou duidelik af, dan sal jy seker wees waarheen jy gaan. Moenie links of regs van jou koers afwyk nie. Bly weg van wat verkeerd is. (NLV)

    Dit is alte maklik om soos Brutus onsself te bluf en ons slegte keuses toe te smeer deur onsself te oortuig dat ons die regte ding doen. Maar sodra die streep in die sand getrek is, is daar geen omdraaikans nie. Die alternatief is om vasberade te bly en met goedheid, integriteit en liefde te leef.

    Merk jou pad vir jou duidelik af, dan sal jy seker wees waarheen jy gaan. Moenie links of regs van jou koers afwyk nie. Bly weg van wat verkeerd is. (NLV)

    Dis God se Woord. Vars ... vir jou ... vandag.

    Support the show

    Enjoying The Content?
    For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
    DONATE R50 MONTHLY

    Más Menos
    3 m